Welkom by Klein Fonteintjies Kleuterskool

Klein Fonteintjies Kleuterskool het sy deure geopen in 1997 en is ons baie trots op ‘n puik skool. Daar heers ‘n huislike en persoonlike atmosfeer onder die personeel, kleuters en ouers. Dit is vir ons belangrik om elke kleuter tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel op liggaamlike en emosionele vlak. Ons werk nie net by Klein Fonteintjies nie maar het ook baie pret! Gekwalifiseerde personeel bied die klasse op ‘n interessante en informele wyse aan. Die klasse is goed ingerig met genoeg ruimte vir speel en leer. Ons volg ook ‘n streng roetine in die klas om te verseker dat alle leerareas gedek word. Die speelterrein is veilig en kleutervriendelik met genoegsame klimapparaat om die grootspiere te ontwikkel. Die jonger maats maak gebruik van hul eie speelarea wat afgeskei is van die groter maats en aangepas is vir hulle veiligheid. Ons gaan kuier ook gereeld by die Laerskool en speel lekker op hulle rugbyveld wat ‘n direkte toegang het vanaf die Kleuterskool se perseel.

Ons Babasentrum is goed ingerig volgens die standaarde van die gesondheidsdepartement. Dit is ‘n pragtige, ruim en sonnige lokaal met oorgenoeg toebehore om die kleingoed te stimuleer en besig te hou. Liefdevolle en goed opgeleide personeel met jarelange ondervinding versorg die babatjies daagliks en glo aan liggaamlike kontak m.a.w baie, baie drukkies en liefde. Personeel is ook opgelei in noodhulp dus kan ouers hul kleingoed met ‘n geruste hart in ons bekwame hande laat. Babas word deurentyd gemonitor en aantekeninge word in baba se boekie gemaak, sodat Mamma en Pappa ten alle tye weet wat alles by die skool gebeur het. Streng maatreëls word toegepas met higiëne en siektes, en word ouers onmiddelik gekontak indien die maatjies siek word. Klein Fonteintjies Babasentrum is ouers se eerste keuse want by ons is al die babatjies nommer een!